Copyright © 2001 - 2013 Rugby Forum.  All rights reserved.                                                      
 
Springbok Legendes Reeks: Jan Boland Coetzee
(Written by Lucas in 2003 for Amabokke)

In die hartjie van die Boland tussen reuse kranse en klowe lê die pragtige studente dorp, Stellenbosch wat wêreld beroemd is vir sy manjifieke wyne en Springbok rugby fabriek by uitstek. Die twee dinamiese tydverdrywe kombineer heel dikwels en 'n uitstekende voorbeeld is Jan Boland Coetzee, Springbok en bobaas wynmaker.

Jan se plaas Vriesenhof is geleë in die asemrowende Paradyskloof tussen die Helderberg en Stellenbosch. Dit is 'n besige tyd vir dié wynboer waar hy saam met sy werkers besig is om druiwe te pars, duidelik hou die oud-losvoorspeler nog steeds daarvan om die “vuilwerk” te verrig soos in die losskrums van weleer! Hy staan egter graag 'n tydjie af om oor rugby te gesels en met sy kenmerkende Malmesbury brei verwelkom hy besoekers vriendelik.

As 'n “kleinerige” flank het Jan eers laat in sy roemryke loopbaan Springbok geword toe hy as 29 jarige in die tweede toets teen die 1974 Leeus gespeel het. Jan vertel met 'n groot glimlag, “Ek kan seker ondubbelsinnig sê dat ek in die meeste proewe gespeel het wat enige speler kon in gespeel het! Dit was die era waar ouens nie geglo het in klein losvoorspelers nie. Vandag, 30 jaar later is die Smiths en die Kriges niks groter as wat ek was nie!” Hy was miskien klein, maar rateltaai.

Die Leeus het die Springbokke in die eerste en tweede toets pakslae gegee en die keurders het, ten spyte van goeie voorbereidings grootskaalse veranderinge aangebring en Jan is uitgelaat vir die res van die toer. Doc Craven veral was snydend in sy kritiek maar ten spyte van sy “jare” het Jan volhard, “Ag, op daardie stadium was my boerdery taamlik groot en ek het die keuse gehad om op te hou maar as ek nou terugdink het ek verskriklik baie genot geput uit rugby, die vriende wat 'n ou maak is onvervangbaar.”

Die Springbokke het die derde toets ook verloor en kon slegs 'n gelykop uitslag in die vierde toets afdwing. Vir die eerste keer daardie eeu kon hulle nie 'n toets op eie bodem in 'n reeks wen nie. Volgens Jan het, “Syd Millar en Willie John McBride, wat afgesien van hulle rugby vaardighede uitstekende leiers was” dié trop Leeus van hulle voorgangers onderskei. Die 1974 Leeus sal altyd onthou word as een van die beste spanne wat nog deur Suid-Afrika getoer het.

In 1975 het Morné Du Plessis die Springbokke vir die eerste keer teen Frankryk aangevoer. Jan het as reserwe in die tweede toets 'n verskyning gemaak en die reeks is 2-0 beklink.

Die grootste uitdaging vir enige Springbok is die All Blacks en die 1976 besoekers onder aanvoering van Andy Leslie het te midde van politieke onweerswolke en druk voortgegaan. Betogers het dinge probeer moeilik maak vir die spelers maar die keurders het die dure les van 1974 onthou en die tuisspan se taak vergemaklik deur so min as moontlik met die span te torring.

Jan onthou die All Blacks as 'n besondere span, “Ek het die voorreg gehad om baie teen hulle te speel; SA Universiteite, Gaselle, WP en die toetse, seker in totaal 8 wedstryde! Daar bestaan nie so iets soos 'n swak All Black span nie, veral met spelers soos Kirkpatrick, Going, Leslie en so kan jy aangaan. Daar was ook voorspelers soos Billie Bush, hy was 'n ongepoetste blikskottel, wat vir my en Moaner van Heerden besig gehou het!” Die Springbokke het die reeks 3-1 verower te midde van felle Nieu-Seelandse kritiek teen skeidsregter Gert Bezuidenhout.

Jan is bekommerd oor die moderne Springbokke en vra jy hom oor die huidige stand van sake na 'n nagmerrie jaar is die antwoord, “Ek dink ons ouens wat buite staan is nie opgewasse om te oordeel nie maar die een ding wat 'n paar van ons pla is die trots, dit is 'n bietjie aangetas. Dit wil voorkom of die profesionele deel meer belangrik is as die land en die ouens behoort te weet en Craven het dit op honderde geleenthede beklemtoon, Suid-Afrika kom eerste!”

Deesdae as 'n suksesvolle wynboer voel Jan, “Ek dink dit gaan goed, die wyn industrie is besonders opwindend en na 1994 het dit gefloreer. As daar een ding is wat die ‘Madiba Magic’ veroorsaak het was dat dit beter met ons wynboere gaan.”

Jan as filantroop deel egter sy lewensukses met ander, “Ek sê altyd een ou kan nooit die wêreld verander nie maar een ou kan die wêreld vir een ander ou verander.” Dié wyse woorde som die man. Jan Boland Coetzee - Springbok legende in woord en daad.