|
“parys
pardys”
Written by Lucas in 2003 for Amabokke |
| |
Baie van ons het grootgeword sonder om die geliefde Springbokke in
aksie te sien, die 1981 toer teen die All Blacks was 'n eerste rugby
geheue en die rare verskynings daarna het Halley se komeet soos 'n
uitgekuierde buurman laat voorkom. Dit is dus taamlik maklik om oor
gebeure van ware betekenis te besin.
Die waterskeiding jaar van 1992 het 'n oud en nuut spil in ons rugby
geskiedenis tot gevolg gehad. Uitgediende maar onvergeetbare redes
het die Springbokke weerhou van internasionale meedinging maar soos
Moses, is daar teruggekeer uit die woestyn en met 'n magtige
vertoning is die wêreldbeker in 1995 verower. Die triomf was van
korte duur, in 1996 het 'n briljante All Black span hulle eerste
reeks oorwinning op SA bodem vermag. In 1997 het die Britse Leeus
die Springbokke geklop met 'n tipiese hartverskeurende skepskop
oomblik. Die Drie Nasies was nie veel beter nie en SA rugby was teen
die toue soos 'n vuisvoos bokser.
Nick Mallett het die leisels oorgeneem vir 'n uitmergelende einde
van jaar toer na Europa. Die toer program het gelees Italië,
Frankryk x 2, Engeland, Skotland - almal op agtereenvolgende naweke
in die bitter koue en reën van 'n tipiese Europese winter.
Italië was min van 'n hindernis maar die Franse, nog de bliksem in
oor die 1995 halfeindstryd en 'n een punt nederlaag die vorige jaar
het soos die Alpe voor Hannibal gestaan. Die Springbokke het in die
eerste toets in Lyon met 'n skrale 4 punte geseëvier en die tweede
toets is met hemelse afwagting begroet. Dit was ook die afskeids
wedstryd vir die Parc des Princes, 'n Coliseum tipe arena waar niks
die koue en lawaai kon uithou nie.
Die stryd was 'n connoisseur se droom, met karige respek vir hulle
oponente se emosies, die glansryke geleentheid en rugby tradisie het
die Springbokke klinies te werk gegaan en hulle eie geskiedenis
uitgekerf. In 'n produksie van rare kwaliteit, ritme en vloei is die
Franse stelselmatig verfrommel en verneder. Die spelers het
individueel en as 'n span perfek gekombineer, selde indien ooit het
'n Springbok span só briljant gespeel!
Die Latynse humeure in die skare het vinnig opgevlam, eers is
woedend kop geskud, daar is geskree, gevloek en hulle span is
halftyd oppad na die kleedkamers uitgejou. Die emosies het egter in
'n kort tydperk verwissel in bewondering, ongeloof en absolute
ekstase. Elke aangee en wonderbaarlike beweging is later met 'n
harde ‘Olé’ begroet, die uiterste kompliment is betoon en waar
anders as in Parys kon die asemrowende spel, die prag van 'n
volmaakte vertoning beter waardeer word? Ten spyte van die sportiewe
Franse waardering was dit die grootste nederlaag in hulle rugby
geskiedenis.
Dit is debateerbaar maar dié vertoning was die katalisator vir 'n
verdere dertien oorwinnings, 'n Drie Nasies kroon, 'n wêreld rekord
en Nick Mallett het die tweede suksesvolste Springbok afrigter van
alle tye geword.
Breyten Breytenbach het die volgende oor Parys gedig;
parys
pardys
maar tuis is paradys
Dié dag was die Springbokke, tuis in Parys. |
|