|
Toets
Dagboek 2002
Written by Lucas in 2002 for Amabokke |
| |
'n Springbok toer is een van daardie geleenthede waarvan alle
volbloed ondersteuners droom, Amabokke het die toetse teen Skotland
en Engeland bygewoon en die volgende dagboek gehou van die twee
wedstryd dae.
16 November 2002 – Skotland v Suid-Afrika, Murrayfield
04:30 Waak. In 'n waas van verdwaling. O gaats! Ons is laat die
“mini-cab” sal binne 10 minute hier wees! Probeer so 'n bietjie kiep
in die kar maar die gedagtes is by die groot “game” vanmiddag.
06:30 Heathrow. Die Engelse is nie te gesteld op sekuriteit vir
binnelandse vlugte alhoewel die na VSA gepaard gaan met die tipe
betasting wat jy in 'n Charlize Theron fliek te siene kry.
07:45 Edinburgh. Die loods gooi so 'n wafferse draai oor die Forth
of Firth om die land se prag en praal te vertoon. Skotland is 'n
land van goeie whiskey en allemintige rugby passie, die twee gaan
heel waarskynlik hand aan hand.
08:30 Verken. Het ontwaak in 'n droom want om die ongelooflike
kasteel en in die Royal Mile is daar net Springbok ondersteuners. O
gonna, vandag gaan die Skotte bars, hier is meer Suid-Afrikaners as
goeie smaak in Sandton.
11:00 Honger. Op 'n rand begroting is hierdie gevoel bes beter
onderdruk. Edinburgh het fantastiese “pubs” en danksy 'n Skotse
vriend is ons gewapen met 'n hele lys van plekke gemerk A D R in
kombinasie of alleen. Huh? A = atmosfeer, D = dames en R is
natuurlik rugby! Vind 'n ADR plek maklik maar op dié dag is elkeen
vol!
12:30 Reën! Ag nee! Dit is nou wragtig onnodig! Begin die tog na
Murrayfield wat volgens een amper onverstaanbare Skotse aksent net 5
minute se stap van Haymarket af is. So tussen ons, die Skotte het
ondanks Colin Montgomerie tog 'n sin van humor, die “stappie” - 30
minute!
13:30 Murrayfield. Wat 'n pragtige stadion! Donker blou stoele laat
dit intiem lyk en met 58 000 mense is dit 'n wonder om te aanskou.
14:30 Senuweeagtig. Jislaaik, die Skotte kan 'n “show” opsit! 20
Doedelsak orkeste speel meësleurende melodiëe. Hop omtrent 20
sentimeter in my stoel toe die vuurwerke afgaan en om alles te kroon
vlieg twee Tornadostraalvegters oor die stadion tydens daardie
mooiste van mooi volksliedere, “Oh Flower of Scotland”. Die SA
volkslied steek egter nie af nie en met 'n magtige gedreuning weet
die Skotte ons is hier!
16:30 Eindfluitjie. %$#@ teleurgesteld! Die Springbokke was power!
Die Skotte het met uitstekende balbeheer en taktiese vernuf die
melkbaarde ore aangesit! Waar is daardie “pubs” gemerk ADR nou?
21:30 Staan nog. Slegs weens die feit dat geen Japie op besoek in
hierdie land kan bekostig om behoorlik sy sorge te verdrink nie!
00:30 Sit nou. Ontspan in 'n sagte stoel met beste whiskey van
simpatieke Skot. Laaste “nightcap” voor ons die land in 'n paar ure
soos bedremelde hoenders verlaat.
23 November 2002 – Engeland v Suid-Afrika, Twickenham
09:00 Ontwaak. Oe, Engeland! Wat gaan ons maak vandag? Wees positief!
09:30 Ontbyt. Stapel voedsel op besoek in Londen, “Bovril op toast”
– begin die wedstryd bespreek. Hoe gaan die Springbokke die magtige
Engeland vanmiddag klop? Vervlaks! Dit reën al weer! Wees positief!
11:30 Putney Stasie. 'n Kort treinrit na Twickenham. Dit reën nie,
dit sous! Ł 2.50 vir 'n retoer kaartie, daar is 'n lyn langer as by
petrolstasies in Zimbabwe, die groen en goud is minder prominent en
luid! Wees positief! Duik in 'n vol trein soos 'n wafferse AJ Venter
in 'n losgemaal toe die deure wil toegaan. Brom, brom van binne in
die trein…
12:00 Twickenham stasie. Die stasie is gebou vir rugby skares want
die treine stop by die dosyne met duisende mense wat afklim. Probeer
soek vir ander vriende by die Cabbage Patch maar het 'n beter kans
om Liz Hurley te ontmoet. Baie meer Springbok ondersteuners meer
hier. Vlae, kępse, truie en mense wat om geld vra by die hekke vir
arme kinders by die huis - voel onmiddelik tuis.
12:45 Sonskyn! Die sluise het gesluit! Is nou positief! Die
metaforiese son sal hopelik vandag op ons skyn!
13:10 Twickenham. Die stadion is fantasties maar 'n kriewelende
gevoel kom sit in my maag toe Jonny Wilkinson alreeds besig is om sy
skoppe op te warm. Ontmoet twee Springbok ondersteuners wat werk as
hekwagte reg langs die veld – wat 'n “job”!
13:40 O bliksem! Die hele Engelse span is aan die opwarm vir 'n vale
terwyl die Springbokke rondstaan en die stadion bewonder!
14:30 God Save the Queen. Donderdag! Die mense kan sing! Claire
Johnstone gee haar beste en die Zulu probeer die Engelse intimideer
a la Rorke’s Drift.
14:51 Tragedie!!! Jannes Labuschagne stap af, kop geboë. Die
Springbokke speel met net 14 man! Swing high swing low sweet
chariot! Ag vlieg in julle maai!
16:30 Pakslae. Die Springbokke verloor met hulle hoogste telling
ooit. Skielik min lus vir enige iets. Van die Springbok
ondersteuners doen die ondenkbare, gooi hulle kępse by die paviljoen
af!
18:30 Drink. Soek die goedkoopste “pub” verste weg van Twickenham en
met die bietjie ponde oor verdrink die sorge.
21:50 Laaste ronde. Dis nou die kroegman se pleidooi maar dit was
menigte Springbok ondersteuner se gevoel na die swartste dag in
geskiedenis.
22:30 Ligte uit. Ditto vir die 2002 rugby seisoen. Nie 'n goeie
einde nie maar nou ja volgende jaar is nog 'n jaar en dan sal almal
hopelik die pyn van vandag vergeet. Wees positief!! |
|