|
Springbok
Legendes teen Ierland
Written by Lucas in 2004 for Springbok Rugby Program |
| |
Vra enige volbloed Bok ondersteuner wie sy gunsteling Springbok
legende van alle tye is dan kry jy antwoorde met bitter min
konsensus. Vra jy watter het teen Ierland gespeel sal min werklik
met gesag hierop kan antwoord want sien, die Bokke het nog net 14
keer teen die manne van die smararg eiland uitgedraf, so dit is 'n
uitgelese groep legendes wat dié eer deel. Ons kyk terug na van
Springbok rugby se grootste legendes wat die vegtende Iere aangedurf
het!
Die baanbrekers van 1906, of 'Het Springbokken' so gedoop deur die
nimlike Paul Roos, was die heel eerste Suid Afrikaanse span wat teen
Ierland uitgedraf het. Vir die rekord, Ierland het daarop aangedring
om in hulle eie kleure (groen) te speel, Roos het ingegee en 'Het
Springbokken' het vir die eerste keer in wit truie gespeel.
Ses jaar later het Billy Millar die 1912 Springbokke aangevoer op
hulle tweede toer na die Britse Eilande. Die span was die eerste om
'n sogenaamde 'Grand Slam' te verower of te wel, al die Britse tuis
unies in een toer te klop. Die wedstryd teen Ierland in Dublin was
'n rekordbrekende sege. Die Springbokke het met 38-0 gewen - 'n
wêreldrekord punte verskil en twee spelers (Jan Stegmann en Boet
McHardy) het 'n driekuns behaal.
Die Eerste Wêreld Oorlog het rugby oordonder vir 'n wyle, asook 'n
reeks teen Nieu Seeland se All Blacks, en dit was bykans 20 jaar
voordat die Springbokke weer die Iere sou aandurf in 1931. In die
span was daar 'n aantal Springbok legendes wat diep spore in ons
rugby getrap het. Die kaptein was Bennie Osler, een van die beste
losskakels in geskiedenis, ander toerlede was 'n jong Danie Craven,
Boy Louw en Phil Nel, kaptein van die beroemde 1937 Springbokke in
Nieu Seeland.
Nog 'n Wêreld Oorlog het 'n reuse rol in rugby sake gespeel en
presies twintig jaar na die vorige toer, besoek Suid-Afrika die
Britse Eilande weer in 1951. Die Springbokke was die nie-amptelike
wêreld kampioene na 'n 4-0 reeks oorwinning oor die All Blacks in
1949 waar twee spelers die reeks oorheers het naamlik Hennie Muller
en Okey Geffin.
Die 1951 span het beide die twee wedstrydwenners ingesluit en Hennie
Muller, beter bekend as 'Windhond', het as kaptein oorgeneem na
Basil Kenyon beseer was. Die toerspan, onder leiding van Doc Craven
het van die beste rugby in Springbok heugenis gespeel, die eerste
toets was die beroemde 'Murrayfield Massacre' toe Skotland verniel
is in 'n wêreldrekord 44-0 nederlaag. Die Iere het in Dublin gevolg
en soos gewoonlik was dit 'n taai onderonsie en die Bokke was 3-5
agter om halftyd met Ryk van Schoor wat met harsingskudding gespeel
het nadat hy die veld verlaat en geweier het om in die ambulans te
klim en weer op die veld verskyn het. Die toets was uiteindelik met
17-5 gewen.
Hennie Muller was een van die briljantste spelers van alle tye, so
was sy invloed op 'n wedstryd, dat lande gepoog het om die spel se
reëls te verander om sodoende sy 'vernietegende' lopies, duikslae en
geweldige spoed te neutraliseer. As die heel eerste 'fetcher' in
rugby, het hy die spel en hoe dit gespeel word gerewolusioneer.
Die sestigs was relatief moeilike tye vir die Springbokke, gemeet
aan die briljante spanne van die verlede. Een speler het egter
uitgestaan tydens die tydperk as die beste van sy generasie, John
Gainsford. Groot en sterk, maar tog geseën met geweldige vaart, was
hy 'n gedugte senter wat heel gemaklik in vandag se moderne spel sou
inpas. John het vir die eerste keer teen die Iere gespeel in die
1960 toer, wat mede-legendes soos Jannie Engelbrecht, Mannetjies
Roux, Mof Myburgh en Frik Du Preez ingesluit het.
Die Ierse toets was ten spyte van hulle swak vertoning in die Vyf
Nasie reeks (hulle het al hulle wedstryde verloor) 'n moeilike
opponent en die Bokke het in beseringstyd 'n oorstoot drie behaal
wat die toets beklink het.
John het nie in die 1961 toets op sy tuisveld Nuweland gespeel nie,
dit was die enigste toets uit 34 agtereenvolgende Springbok toetse
waarin hy nie gespeel het nie. Die 1965 jaar was een van die swakste
jare in Springbok geskiedenis en die Iere het hulle eerste
oorwinning behaal in Dublin, 9-6.
John Gainsford het 33 toetse vir die Springbokke gepeel en 7 drieë
gedruk, op daardie stadium beide rekords in die groen-en-goud en hy
hou nog steeds die tweede meeste toets verskynsels op senter na
Pieter Muller.
In 1969-70, die sogenaamde 'demo toer', het die Springbokke nog 'n
katastrofiese besoek na die Britse Eilande meegemaak, hulle kon nie
een toetswedstryd wen nie en moes met gelykop uitslae teen Ierland
in Dublin en Walis gelukkig wees. Dit, ten spyte dat van Suid-Afrika
se mees uitstaande spelers van alle tye in die span was, spelers
soos Mannetjies Roux, Jan Ellis, Piet Greyling, H.O de Villiers en
die Springbok speler van die eeu, Frik du Preez.
Frik du Preez was ongetwyfeld Suid-Afrika se beste speler van alle
tye en sy naam is sinoniem met legendariese dade. Hennie Viljoen,
sportjoernalis, het dié man so beskryf, 'Frik. Ou Frikman. Frikkie.
Groot Frik. Die bekendste Frik wat dié land nog geken het.' Oom Frik
is volksbesit en op sy dag het bewonderaars briewe gerig aan 'Oom
Frik, Noord Transvaal, Pretoria' by sy huisadres opgedaag – 'n reus
in Suid Afrikaanse rugby geskiedenis. Soos Mof Myburgh gesê het,
Frik het 'ge-drop, ge-place en ge-score' en in 38 toetse oor 11 jaar
vir sy land gespeel het.
Met politieke isolasie 'n werklikheid, het die Springbokke min
geleenthede gekry om toetsrugby te speel in die sewentigs en tagtigs.
Van Suid-Afrika se beste rugby talent het nooit kans gekry om tot
hulle volle potensiaal, op internasionale vlak mee te ding nie. Twee
supersterre wat ondanks alles nog steeds erken is as van die bestes
in die wêreld het in twee toetse teen Ierland in 1981 gespeel op eie
bodem. Die legendes is Naas Botha en Danie Gerber.
Almal ken Naas. Sy naam alleen is bekend genoeg vir enige rugby
ondersteuner en op sy kruin die mees geliefde/gehate persoon in die
land. As wedstrydwenner was daar min wat sy rekord kan troef en sy
erfenis aan Springbok rugby is verseker.
Die ander briljante speler wat die Iere moes probeer stuit was 'n
jong senter wat allerweë beskryf is as die 'idiale' senter – groot,
sterk, met 'n systap van beide voete, 'n ongelooflike
vaartversnelling en oog vir die doellyn. Bil McLaren, die beroemde
Skotse komentator het Danie as sy buite-senter in sy wêreldspan
ingesluit en dit was oomblikke soos sy ongelooflike drie teen die
Iere op Nuweland wat hierdie reputasie verewig het. Die drie is vars
in die geheue van enige iemand wat dit aanskou het en dit word
allomweë aanvaar as sy beste drie en een van die beste Springbok
drieë van alle tye.
Die Springbokke het na hul terugkeer uit isolasie vir die eerste
keer in 1998 weer teen Ierland in twee tuis toetse gespeel. Die is
taamlik maklik gewen en met nog 'n oorwining in Dublin aan die einde
van die jaar het hulle die wêreldrekord van17 toets oorwinnings in
'n ry geëwenaar. Die laaste toets tussen die ou rugby vyande was 'n
goeie Springbok oorwinning aan die einde van 2000.
Suid-Afrika het 'n roemryke skatkis van rugby prestasies en uithaler
spelers wat meeste ander rugbylande groen van jaloesie gehad het en
nog steeds het. Daar was nog altyd 'n gesonde wedywering met Ierland
en gekiedenis het bewys dat geen Ierse span sonder handskoene
aangepak moet word nie! Die Ierse duiwels mag dalk in hulle oë
glimlag maar dié manne kan rugby speel en die 2004 toer sal geensins
anders wees nie, vra maar die legendes!
|
|