|
Pieter
Hendriks vs Australie 1995
Written by Lucas in 2003 for Amabokke |
| |
Pieter Hendriks in 1995 teen Australië – ‘Hier is spoed dames en
here!’
Springbok rugby en 1995 - elke volbloed ondersteuner het 'n
persoonlike herinnering van euforie as daar teruggedink word aan dié
historiese jaar in Suid-Afrikaanse rugby. Meeste sal die gebalde
vuiste van Nelson Mandela en Francois Pienaar met die Webb Ellis
trofee omhoog nooit in der ewigheid vergeet nie. Die onskatbare
oomblik was grootliks te danke aan 'n gebeurtenis 'n maand vroëer op
'n pragtige winters middag teen die Wallabies in die
openingswedstryd van die 1995 Wêreldbeker.
Australië, houers van rugby se Heilige Graal het met 'n span
legendes op Nuweland toegesak, die kaptein was Michale Lynagh,
wêreld punte rekordhouer, John Eales, latere inspirerende kaptein op
slot, Tim Horan die briljante senter en op vleuel, die legendariese
David Campese. Campese was 'n genie, min wat sy wonderdade op die
veld al aanskou het sal die feit betwyfel of bestry. Die man se
instink was aanval en hy het dit met 'n repertoire van fop, fnuik,
hinkstappe en geweldige vaart laat maklik lyk en op sy dag sonder 'n
gelyke tussen die vier witgekalkte lyne.
Die Wallabies was vol selfvertroue, dalk 'n titseltjie te veel maar
om op die hogere vlak sport suksesvol te beoefen is selfvertroue
onontbeerlik. Min het hulle geweet dat die gedugte Kitch Christie
met amperse maniese presiesheid sy span voorberei het vir die
kompetisie.
Die Springbokke was ongelooflik gemotiveer om aan die wêreld te
bewys dat geen wêreldbeker toernooi sonder Springbok rugby as sulks
beskou kon word nie. Die idiale teeanstanders was dus juis die
huidige kampioene, bygesê die fantastiese ondersteuning wat
gegenereer is met die ‘een span een nasie’ slagspreuk het die
vyftien manne met 40 miljoen mense se wilskrag gevul!
Die wedstryd was 'n waas en is teen 'n geweldige tempo gespeel,
Australië het met kenmerkende astrantheid begin, hulle was uiteraard
die kampioene en na 30 minute het Lynagh gaan druk en het dit gelyk
of die Springbokke oorrompel sou word. Helaas nie dié Saterdag nie!
Wat gebeur het skuins voor halftyd het die volgende maand vergestalt
vir beide die merkwaardige span en die fanatiese reënboog nasie
ondersteuners.
Die Springbokke het besit vekry in hulle helfte en James Small, die
vurige regtervleuel het die bal goed gedra oor die middellyn en toe
laat loop na James Dalton wat op sy beurt vir Mark Andrews gevoer
het en hy het 'n losskrum afgedwing. Die Springbok voorspelers het
soos huisvrouens by 'n uitverkoping ingeboender en die bal
beskikbaar gestel vir die wagtende agterlyn. James Small het weer
hanteer, die keer aan die linkerkant van die veld en die bal na
Pieter Hendriks aangegee.
Gerhard Viviers het altyd gesê, “hier is spoed dames en here!” en
Pieter Hendriks het die bal onder sy linkerarm gedruk en met
geweldige vaart op David Campese afgesak. Op die laaste nippertjie
het Pieter 'n volmaakte binne buite swenk uitgevoer wat Nuweland aan
Carel Du Plessis laat dink het om verby die legende te nael vir een
van die beste en belangrikste driëe van sy loopbaan. Die gebalde
vuis was al wat Campese kon onthou en daarmee was die tafel gedek
vir 'n Springbok oorwinning. Joel Stransky het die dag die res
gedoen nes hy op die 24ste Junie 1995 homself in rugby legende
geskepskop het.
Die een oomblik van Hendriks-briljantheid was die katalisator vir 'n
Springbok sege in die wêreldbeker en een van die mees belangrikste
gebeurtenisse in die geskiedenis van 'n Nuwe Suid-Afrika.
|
|