|
John
Gainsford
Written by Lucas in 2003 for Amabokke |
| |
Een van 'n Springbok afrigter se grootste kerswense van Sinterklaas
is 'n speler van ware wêreldgehalte. Ons praat nou van daai manne
wat hulleself kies in enige Jan Rap en sy maat se “beste van sy
generasie” span. Dié tipe speler word natuurlik nie onder elke
kalkoen uitgebroei nie maar maak elke nou en dan sy opwagting. Een
só “grote”, John Leslie Gainsford het vroeg in die jaar 1960 op die
jeugdige ouderdom van 21-jaar na vore getree en hom gevestig as 'n
Springbok legende.
John het vroeg in sy lewe 'n absolute passie vir rugby ontwikkel
nieteenstaande hy by een van die minder bekende rugby skole,
Landsdowne High School in Kaapstad skool gegaan het. As 16-jarige
het hy by die beroemde Villagers klub aangemeld en onmiddelik plek
gekry in die onder-19 C-span as senter. Die volgende jaar was hy in
die A-span, onthou hierdie was die tydperk van klubrugby en 'n
speler moes sy pad oopspeel na groter dinge. Senior klubrugby het
spoedig gevolg en hy het mettertyd onder die aandag van die
provinsiale keurders gekom. Op 19-jarige ouderdom, in 1958 maak John
sy Westelike Provinsie debuut teen Boland op Wellington weens die
afwesigheid van verskeie WP Springbokke wat die dag teen Frankryk
kragte gemeet het.
Groot en sterk tog geseën met geweldige vaart wat hom die 100 treë
in 10.3 sekondes laat aflê het, het van John 'n uiters moeilike
opponent gemaak en in sy tweede jaar van provinsiale rugby was hy
een van die beste senters in die land. Hy het sy Junior Springbok
kleure in 1959 verwerf en sy eerste proe-slag van internasionale
rugby gekry in 'n toer na Argentinië. Daardie dae is met die boot
gereis en toer was 'n geheel en al anderse ervaring wat die sterk
karakters na vore gebring het en so is die beroemde Springbok gees
geslyp wat baie spanne to oorwinning gedra het.
Die grootste jaar van die jong man se lewe en ongetwyfeld een van sy
trotste oomblikke was toe hy gekies is vir Des van Jaarsveldt se
Springbokke teen Skotland vroeg in April van 1960. Die keurders het
besluit dat met die aangewese toer van die magtige manne van
Nieu-Seeland daar so vroeg as moontlik span gebou moes word. Die
Skotte is maklik afgeransel en soos menigte debutante kon John maar
min van sy eerste toets onthou, dit was egter 'n totale ander storie
teen die uitstekende 1960 All Blacks wat manne soos Don Clarke,
Wilson Whineray, Kelvin Tremain en ene Colin Meads ingesluit het.
Die Springbok afrigter vir die reeks was Hennie “Windhond” Muller,
legendariese agsteman en kaptein wat in 1949 die All Blacks verneder
het.
Die Springbokke het die eerste toets 13-0 beklink maar soos
gewoonlik die geval teen die All Blacks, die tweede verloor op John
se tuisveld, Nuweland. Die reeks was meedoënloos met die derde toets
gelykop maar in die finale stryd het die Springbokke met 8-3
geseëvier en John was midde een van Suid-Afrikaanse rugby se goue
tydperke. Later die jaar het 'n hoogs suksesvolle toer na Europa
gevolg waar die enigste nederlaag teen die beroemde Barbarians was.
Dié span was een van die heel beste waarin John gespeel het en het
mede-legendes soos Jannie Engelbrecht, Mannetjies Roux, Mof Myburgh
en die Springbok speler van die eeu, Frik Du Preez ingesluit.
Suid-Afrika het met spelers van wêreldgehalte gespog en John was 'n
ster.
Vir 'n jong speler het John vinnig die hoogste sport bereik maar
soos menigte weet is dit moeiliker om die standard te handhaaf oor
'n gegewe tydperk. Hy was egter uit die regte stoffasie geskape en
het in 33 van die volgende 34 Springbok toetse gespeel, die enigste
uitsondering 'n wedstryd teen die Iere op Nuweland in 1961. Later
sou John teen elke toets spelende nasie uitdraf ingsluitende die
Leeus van 1962, wat lelik op hulle baadjie gekry het en seker die
hoogtepunt van enige Springbok se loopbaan, 'n toetsreeks in
Nieu-Seeland gedurende 1965.
Sy laaste toetsreeks was teen die Franse span van 1967, waartydens
hy vir die eerste keer in sy loopbaan uit 'n span gelaat is na die
derde toets nederlaag op Ellis Park. 'n Paar maande later het hy op
29-jarige leeftyd rugby, as speler, vir ewig vaarwel toegeroep maar
hy sou wel later sy merk maak as afrigter en keurder.
John Gainsford het 33 toetse vir die Springbokke gepeel en 7 drieë
gedruk, op daardie stadium beide rekords in die groen-en-goud en hy
hou nog steeds die tweede meeste toets verskynsels op senter na
Pieter Muller. Dié man was inderdaad 'n rare speler van
wêreldgehalte en ongetwyfeld een van die grootste Springbok legendes
van alle tye.
|
|