|
Jan Boland
Coetzee
Written by Lucas in 2003 for Amabokke |
| |
In die hartjie van die Boland tussen reuse kranse en klowe lê die
pragtige studente dorp, Stellenbosch wat wêreld beroemd is vir sy
manjifieke wyne en Springbok rugby fabriek by uitstek. Die twee
dinamiese tydverdrywe kombineer heel dikwels en 'n uitstekende
voorbeeld is Jan Boland Coetzee, Springbok en bobaas wynmaker.
Jan se plaas Vriesenhof is geleë in die asemrowende Paradyskloof
tussen die Helderberg en Stellenbosch. Dit is 'n besige tyd vir dié
wynboer waar hy saam met sy werkers besig is om druiwe te pars,
duidelik hou die oud-losvoorspeler nog steeds daarvan om die
“vuilwerk” te verrig soos in die losskrums van weleer! Hy staan
egter graag 'n tydjie af om oor rugby te gesels en met sy
kenmerkende Malmesbury brei verwelkom hy besoekers vriendelik.
As 'n “kleinerige” flank het Jan eers laat in sy roemryke loopbaan
Springbok geword toe hy as 29 jarige in die tweede toets teen die
1974 Leeus gespeel het. Jan vertel met 'n groot glimlag, “Ek kan
seker ondubbelsinnig sê dat ek in die meeste proewe gespeel het wat
enige speler kon in gespeel het! Dit was die era waar ouens nie
geglo het in klein losvoorspelers nie. Vandag, 30 jaar later is die
Smiths en die Kriges niks groter as wat ek was nie!” Hy was miskien
klein, maar rateltaai.
Die Leeus het die Springbokke in die eerste en tweede toets pakslae
gegee en die keurders het, ten spyte van goeie voorbereidings
grootskaalse veranderinge aangebring en Jan is uitgelaat vir die res
van die toer. Doc Craven veral was snydend in sy kritiek maar ten
spyte van sy “jare” het Jan volhard, “Ag, op daardie stadium was my
boerdery taamlik groot en ek het die keuse gehad om op te hou maar
as ek nou terugdink het ek verskriklik baie genot geput uit rugby,
die vriende wat 'n ou maak is onvervangbaar.”
Die Springbokke het die derde toets ook verloor en kon slegs 'n
gelykop uitslag in die vierde toets afdwing. Vir die eerste keer
daardie eeu kon hulle nie 'n toets op eie bodem in 'n reeks wen nie.
Volgens Jan het, “Syd Millar en Willie John McBride, wat afgesien
van hulle rugby vaardighede uitstekende leiers was” dié trop Leeus
van hulle voorgangers onderskei. Die 1974 Leeus sal altyd onthou
word as een van die beste spanne wat nog deur Suid-Afrika getoer het.
In 1975 het Morné Du Plessis die Springbokke vir die eerste keer
teen Frankryk aangevoer. Jan het as reserwe in die tweede toets 'n
verskyning gemaak en die reeks is 2-0 beklink.
Die grootste uitdaging vir enige Springbok is die All Blacks en die
1976 besoekers onder aanvoering van Andy Leslie het te midde van
politieke onweerswolke en druk voortgegaan. Betogers het dinge
probeer moeilik maak vir die spelers maar die keurders het die dure
les van 1974 onthou en die tuisspan se taak vergemaklik deur so min
as moontlik met die span te torring.
Jan onthou die All Blacks as 'n besondere span, “Ek het die voorreg
gehad om baie teen hulle te speel; SA Universiteite, Gaselle, WP en
die toetse, seker in totaal 8 wedstryde! Daar bestaan nie so iets
soos 'n swak All Black span nie, veral met spelers soos Kirkpatrick,
Going, Leslie en so kan jy aangaan. Daar was ook voorspelers soos
Billie Bush, hy was 'n ongepoetste blikskottel, wat vir my en Moaner
van Heerden besig gehou het!” Die Springbokke het die reeks 3-1
verower te midde van felle Nieu-Seelandse kritiek teen skeidsregter
Gert Bezuidenhout.
Jan is bekommerd oor die moderne Springbokke en vra jy hom oor die
huidige stand van sake na 'n nagmerrie jaar is die antwoord, “Ek
dink ons ouens wat buite staan is nie opgewasse om te oordeel nie
maar die een ding wat 'n paar van ons pla is die trots, dit is 'n
bietjie aangetas. Dit wil voorkom of die profesionele deel meer
belangrik is as die land en die ouens behoort te weet en Craven het
dit op honderde geleenthede beklemtoon, Suid-Afrika kom eerste!”
Deesdae as 'n suksesvolle wynboer voel Jan, “Ek dink dit gaan goed,
die wyn industrie is besonders opwindend en na 1994 het dit
gefloreer. As daar een ding is wat die ‘Madiba Magic’ veroorsaak het
was dat dit beter met ons wynboere gaan.”
Jan as filantroop deel egter sy lewensukses met ander, “Ek sê altyd
een ou kan nooit die wêreld verander nie maar een ou kan die wêreld
vir een ander ou verander.” Dié wyse woorde som die man. Jan Boland
Coetzee - Springbok legende in woord en daad. |
|