|
Die
Legendariese Frik du Preez
Written by Lucas in 2004 for Amabokke |
| |
Springbok rugby het al deur die eeue menigte spelers van wêreld
gehalte opgelewer, spelers wat wyd en suid verhemel is vir hulle
legendariese dade op die veld. Onder die bestes van die beste is
daar egter een speler wat selfs in hierdie uitstaande groep homself
onderskei het as 'n reus in Suid Afrikaanse en wêreld rugby – Frik
du Preez, Springbok speler van die twintigste eeu.
Frik, is in die Rustenburg distrik van die ou Wes-Transvaal gebore
en het as jong seun glad nie rugby gespeel nie, dit was sokker en
atletiek wat sy aandag gehou het. In hoërskool op Standerton het hy
uiteindelik die spel aangeneem maar met sy natuurlike vaart is hy op
heelagter, losskakel en vleuel ingespan. Na skool is hy na die
Lugmag in Pretoria en hier het hy in beskeie omstandighede vir die
O/19D-span begin speel hy het egter van posisie verwissel na slot.
Die volgende jaar het Frik vir die eerste keer sy provinsie, Noord-Transvaal
verteenwoordig en was hy ook kaptein van die O/19’s.
'n Groot oomblik in die jong speler se loopbaan was toe hy in 'n
voorwedstryd vir die Springbokke op Ellis Park uitgedraf het in
1955. Die beroemde ‘Jack van der Schyff toets’ was Frik se eerste
kennismaking met 'regte' Springbokke en dit het ongetwyfeld 'n
blywende indruk gemaak en 'n ambisie aangewakker.
In die laat vyftigs was daar baie goeie slotte, nie net in Noord-Transvaal
nie maar ook in die land en dit het Frik 'n paar jaar geneem om sy
merk te maak maar in 1958 is hy vir die eerste keer vir die ‘Blou
Bulle’ gekies en soos hulle sê, die res is geskiedenis. Die 1960
jaar het Frik teen die ou ‘vyand’, die All Blacks spel van sulke
hoogstaande gehalte gelewer vir onder andere die Gekombineerde Magte
en Noord-Transvaal dat die Springbok-keurders hom nie kon igonoreer
nie. Toe die toerspan na Brittanje aangewys is op die 27ste
Augustus, was Frik se naam in die span en so het 'n legendariese
Springbok loopbaan begin.
Frik het in 38 toetse en 87 wedstryde vir die Springbokke gespeel
wat vir jare as rekord gestaan het in 'n tydvak waar daar nie elke
jaar toetse gespeel is nie. Sy rekord is vanselfsprekend en sy
bydrae tot die Springbokke se sukses in hierdie jare was allemintig.
Statistiek is 'n goeie maatstaaf maar soos almal weet vertel dit nie
'n storie nie.
Frik du Preez is veel meer as 'n briljante rugby speler wat die
Springbokke met eer verteenwoordig het. Die man het met sy
persoonlikheid en wonderdade vriend en vyand verras en is
ongetwyfeld 'n wonderlike ambasadeur van sy land en sport. In sy dae
het die Bokke vir maande getoer en daar was baie tyd vir vermaak en
poetse bak en saam met maats soos Mof Myburg en Piet Uys is daar
wonderlike stories te vertel.
Dit was veral Frik se ‘laid back’ gesindheid wat baie maal die
keurders vererg het en hy is 'n paar keer uit die span gelaat veral
vir opmerkings soos, ‘Ag wel, dis beter as om te werk!’ toe die
Springbokke op toer verloor het (Dit het maar min gebeur en was
daarvoor 'n groot storie!). Hy was ook berug vir min oefen maar sy
ongelooflike natuurlike talent was genoeg om uit te staan op die
veld. Van sy teenstanders, soos Colin Meads het juis opgemerk dat as
hy meer toegwyd was hy selfs nóg beter kon gewees het.
Die groot Noord Transvaler besit 'n spesiale plek in meeste
ondersteuners se hart, die man wat kon ‘drop, place en score’ was
Springbok rugby se superster en vandag nog is hy die
verpersoonliking van rugby in sy era. Daar is min twyfel dat hy in
die moderne spel ook sy merk sal gelaat het maar dalk meer as 'n
flank. Sy rugby brein, spoed en uitstekende hanterings vermoë
oorbrug enige era.
Frik du Preez was ongetwyfeld Suid-Afrika se beste speler van alle
tye en sy naam is sinoniem met legendariese dade. Hennie Viljoen,
sportjoernalis het dié man so beskryf, 'Frik. Ou Frikman. Frikkie.
Groot Frik. Die bekendste Frik wat dié land nog geken het.' Oom Frik
is volksbesit. |
|